…2011 TO-DO LIST

Posted: Januarie 5, 2011 in Uncategorized

Ek noem dit maar die 2011 To-Do List – want ons almal weet wat van Nuwejaarsvoornemens word… (ek het gedink aan “Bucket List” – maar dit klink darem te veel na ‘n emmer geskoppery – en daarvoor ek is nog nie gereed nie!?!)

Hierdie is dan die lys van dinge wat ek nog hierdie jaar gedoen wil kry (in geen spesifieke volgorde nie):

Die 1e jaar van my 7 maer jare voltooi … (in 2010 het ek 25kg in 7 maande verloor en na die vakansie se 2 kilo’s wat ek opgetel het, weer 5kg om te verloor – dan is ek by my doelgewig!)

My “family picture wall” klaarmaak … (ek versamel al 5 jaar aan die fotorame, dis tyd dat hul gevul word en teen die muur opkom!)

Meer kreatief wees … (die verf en die canvas x 3 lê en oud word in die kas, dis hoog tyd dat al hierdie prentjies in my kop op doek vasgelê word!)

Meer KWALITEIT tyd saam met manlief spandeer … (ons spandeer wel baie tyd saam, maar ons sal net moet werk aan die kwaliteit tyd wat ons saam spandeer … ’nuff said!)

‘n Beter vriendin wees … (my vriende/vriendinne (kom ons praat nie oor my familie nie) word hopeloos te veel afgeskeep – ek moet meer tyd maak vir hulle!)

My lidmaatskap aan die biblioteek hernu … (ek wil baie graag elke maand ‘n Afrikaanse boek lees, ek is SO vêr agter!) (Ek het reeds gister met my eerste boek begin!)

Om swanger te word sal “nice” wees, maar ek glo daarin dat als op die regte tyd kom … ek hoop die Skepper se tyd sal hierdie jaar met myne sinchroniseer? (Mag mens dit hardop hoop?)

Meer blog … (as ek so kyk na die lysie hierbo, sal ek so ‘n paar uur ekstra in ‘n dag, week, maand iewers moet koop, maar blog wil ek blog – al lees niemand dit nie!)

In kort … meer tyd aan MY, en dit naby aan my wat die belangrikste is … goeie gesonde BALANS!!

Mag 2011 jou baie goedgesind wees!!

…maandag…

Posted: Julie 23, 2010 in Uncategorized

Maandag is weer WEEG-DAG!!

Ek was nou op ‘n twee weke rusfase – maw geen inspuitings! En ek kon dit voel!

Maar … die wolk het ‘n silwer randjie – ek het steeds verloor terwyl ek veronderstel was om stil te staan.

Volgens my berekeninge staan ek nou op -12kg! Dis AMPERTJIES halfpad na my doelgewig!

Uithou —- aanhou —– en bek hou! 🙂

…engel van my hart…

Posted: Julie 5, 2010 in Uncategorized

Ek wonder wat het ek ooit gedoen

Om jou te verdien

Het jy dalk my hart deur die oë van die hemel raakgesien

want nooit in my lewe het ek gedink

dat iemand my so lief kan hê soos jy

‘n Engel gestuur vir my

Jy’s die wind hier onder my vlerke

wat my hoog hou

in die lug hou

jy’s die vuur wat brand in my

sodat ek kan skyn

Met jou krag en sterkte leer jy my

om te lewe

jy’s die rede

Jy’s die engel van my hart

want jy glo in my!

Die kalmte spoel oor my as jy naby my is

Jou arms bly die hawe waar ek veilig rus

Om elke myl saam met my te loop

Te glo en hoop dat ek my drome kry

dis jy … ‘n engel gestuur vir my!

 

(Musiek en lirieke : Juanita du Plessis)

…struikelblokke…

Posted: Junie 30, 2010 in Uncategorized

Ek is trots op myself!!! En ook nie bang om dit te sê nie!

Ek is nou in Week 5 van my program en het die eerste vier weke 8.72kg verloor!

Maar, die eerste vier weke was beslis nie sonder sy sarsie struikelblokke nie…

Die eerste dag van my program was daar die baas se vrou wat ons verras het met varsgebakte roosterkoek, tuisgemaakte konfyt en heerlike vars kaas…ek het NEE gesê.

Daar was die naweek in Ceres Karoo – vier dae nadat ek begin het met die program – en almal wat ken van Karoo toe gaan ken van LEKKER skaaptjoppies braai, die snacks tussenin, die rooiwyn om die vuur … ek het NEE gesê.

Daar was drie kollegas wat (afsonderlik) verjaar het en volgens tradisie vir almal ‘n bordjie eetgoed gebring het … ek het NEE gesê.

Daar was die baas wat Kudu biltong en droëwors vir die personeel uitgedeel het … ek het uitgedeel, maar ek het NEE gesê. (My man smile natuurlik baie breed daaroor!)

Daar was die eerste naweekkuier en Sondagete by skoonma (wat altyd ‘n feesmaal is) … ek het NEE gesê (en my eie vaal ete voorberei.)

Dan was daar die vriendin wat verjaar het vir wie ons graag wou uitneem vir ete … ek het saamgegaan, maar ek het NEE gesê en slaai bestel.

Daar was ‘n oggend fliek saam met vriende – wat tradisioneel afgeskop word met ‘n heerlike Engelse ontbyt en popcorn by die movie (wie kyk nou movies sonder popcorn?)… ek het NEE gesê. (en my appeltjie in die handsak saamgedra)

Die naweek is die eerste bruilof-struikelblok – almal weet hoe lekker mens by troues eet en dat die spyskaart nie juis voorberei is met diëte in gedagte nie … ek MOET NEE Sê, maar ek is bevrees ek sal my eie kossies skelm in die motor moet gaan eet, of flou word van hongerte.

Ek het vier weke laas pasta geëet.

Ek het vier weke laas chips en tjoklits geëet.

Ek het vier weke laas ‘n skaaptjoppie geëet.

Ek het vier weke laas take-aways geëet.

En ek leef nogsteeds lekker!

Gevolgtrekking … dis nie aldag maklik om NEE te sê nie, veral nie na ‘n leeftyd van 32 jaar waar jy nog altyd net JA gesê het vir lekker eet nie … maar DIS MOONTLIK!! En solank dit moontlik is … sal ek dit doen! 

At the end of the day … it’s the scoreboard that matters!

(PS… ek kon ‘n nuwe rok koop vir die troue – en goed voel daarin!!)

This is my journey …

Posted: Junie 14, 2010 in Uncategorized

Ek het nog nooit in my lewe ‘n ernstige issue gehad met my gewig nie! Party mense kyk my seker skeef aan daaroor, want ek is nou nie gebou soos ‘n pou nie, maar eerder gebou om te hou! If you catch my drift… In elk geval – sienende dat my gewig nie ‘n issue is nie en ek baie lief is vir lekker eet en ook baie graag nuwe resepte uitprobeer, het die gewiggies taamlik aangepak oor die heupe en maag en het my kurwes mettertyd – hoe sal ek sê – VOLLER geword!

Toe tref die ouderdom – elke tydskrif wat waarsku dat mens van 30 af begin sukkel om gewig te verloor, dat jy allerhande roompies en goedjies moet gebruik om die plooie weg te hou en dat ‘n besoek aan die haarkapper nie net bepaal word deur die hare wat so bietjie te lank raak nie – maar ook aan die hoeveelheid grys hare wat kop uitsteek – letterlik en figuurlik! In my stille gedagtes oorreed ek toe maar myself dat dit tyd geword het om wel so ‘n ietwat van ‘n issue met my gewig te ontwikkel en ter wille van my gesondheid iets daaromtrent te doen. (Moet asseblief nie obsessie in die woord issue lees nie – want daar is ek nog baie vêr van.)

Die groot soektog begin na die regte dieët… Eers oorweeg ons Weigh Less, want my vriendin het 20kg verloor – die geweeg van die kos en die gedurige geëet het by ‘n vorige probeerslag my heeltemal siek gemaak en nie juis goeie resultate gelewer nie. Nee wat, te veel moeite!

Daarna volg Dr Cohen se dieët – Bertha le Roux het ‘n astronomiese hoeveelheid kilo’s daarmee verloor! Kan verstaan hoekom – want dit kos nogal ‘n astronomiese bedraggie om daaraan deel te neem – om nie te praat van die maandelikse bloedtoetse (nog ‘n astronomiese bedrag) en die vitamienpilletjies nie! Op nommer 99 waarsku ‘n ander vriendin dat die kos VERSKRIKLIK min is en dat mense so te sê DOOD van die honger! Ek is nog te jonk om dood te gaan as gevolg van hongersnood – toe hou ek maar verby!

Weight Watchers was my volgende opsie … ek het al goeie resultate gesien – ‘n kollega het mooi gewig verloor – maar als weer opgetel nadat sy opgehou het … en na al die suffer en punte getellery wil ek tog nie weer al die kilo’s optel nie! Wat is dan die punt? Bygesê die ledegeld is nie duur nie – daar is nie addisionele bloedtoetse of ‘n geweeg van kos nie! Klink vir my na die regte opsie vir Sannie – tot ek die aand na ‘n diep gesprek met manlief, my ook nie tot Weight Watchers kon wend nie!

Manlief reken as ek ernstig is om gewig te verloor – moet ek eerder bereid wees om ‘n ernstige paar rand uit te haal en ‘n dieët (ek verkies om dit ‘n PROGRAM te noem) te volg wat ek weet gaan WERK! Almal weet van die tannies wat hulself soggens moet inspuit en dan ‘n streng program volg en ALMAL weet van die blywende resultate – maar ALMAL weet ook hoe duur hierdie program is! Toe raak dit ‘n saak van gebed – want as ek regtig ernstig oor dit is, dan moet ek die regte ding doen en my spaarvarkie oopsny en die bul by die horings pak. Laat die geld dan die motivering wees om eerder op die program te bly – want wie het vandag soveel geld om in die water te gooi?

So gesê en so gemaak … volgende oggend bel ek vir ‘n afspraak met ‘n dokter wat my sal lei met die mediese gewigsverliesprogram – resultate gewaarborg. Ek kry eers oor drie weke ‘n afspraak! Wat nou gemaak … want my kop is NOU reg – ek kan geen waarborg gee dat hy nog oor drie weke reg gaan wees nie! Daar is in elk geval ‘n Karoo-kuiernaweek oor twee weke waar ons lekker kan weglê aan braaivleis en potjiekos – so eintlik pas dit my! Twee dae later kry ek ‘n oproep van die dokter … daar het ‘n plekkie oopgegaan – stel ek belang om dit te neem? Voor ek nog kon dink aan die karooskapie wat salig in my magie gaan lê oor die naweek – sê ek toe ja!

So breek die 31ste Mei aan – en nooit het ek kon dink dat dit die dag sal wees wat my lewe ‘n ommeswaai maak nie! So word ek geweeg – en te swaar gevind – en ‘n mikpunt gestel! Ek weeg nou wel nie 350kg soos Ruby op Style Network nie – darem nog BAIE vêr van 150 af, maar om die korrekte BMI (Body Mass Index) te hê, moet ek 25kg verloor!! Goeie genade gawe! Praat van astronomies! Weet jy hoeveel is 25kg??? My twee honde weeg saam 25kg! Wat de hel? Voor ek nog kan wonder hoe ek dit gaan regkry en voor my negatiewe gedagtes nog kan posvat – plak my dokter ‘n sak vol pille en ‘n shake en ‘n sakkie met inspuitings voor my neer. Sy wys my vinnig vinnig hoe om myself soos ‘n drug-addict in te spuit in my maag en siedaar … voor ek my kon kry staan ek gereed om my opvolg 2 weke afspraak te maak…

Vandag is dit twee weke later en ek het die “hongersnood” met vlieënde vaandels oorleef … minus 5.26kg later… en ek staan met ‘n broek wat gedurig tot op my knieë wil afsak en klere wat skielik heeltemal te groot is!

EN EK VOEL FANTASTIES!!!!

Die geld wat ek op die program spandeer is vandag nie meer die motivering nie – dis hoe ek voel en hoe ek lyk wat my elke dag dra. Ek kan nie glo dat ek al die jare so ‘n fool was nie en verstaan nou waaroor die hoe-ha van gewig verloor en gewig beheer gaan! Dis ongelooflik hoe die jare se bietjie bietjie verkeerd eet – te veel eet – ongebalanseerd eet – en bitter min oefening – kan aanpak en aanpak tot jy eendag wakker skrik en besef jy sal iets moet doen, anders gaan jou gesondheid daaronder begin ly.

Ek lees die volgende op http://www.obesityunit.co.za – 300 000 Americans die every year in the USA as a result of obesity complications. Together with the rest of the world South Africa is also experiencing the global wave of the Obesity Epidemic (globesity). In South Africa white men and black women are the most affect by obesity. In a study from the Medical Research Council in 1990 it was found that 44% of African Women living in the Cape Peninsula were obese.

So ja – – – my naam is René en ek was “verslaaf” aan kos my lewe lank – en alhoewel dit nie so lyk of voel nie – is dit ‘n feit dat ek volgens my BMI, OBESE is! Beslis nie iets om op trots te wees nie – maar beslis iets waaraan ek baie hard werk! Ek sien nie “obesity” as ‘n skande nie, maar eerder ‘n lewensstyl-siekte wat genees kan word! En ek sal alles in my vermoë doen om myself te genees! Ek het ‘n belofte aan myself gemaak om elke dag vol te hou met my program – en deur die genade van God en die ondersteuning van my man, familie, vriende en kollegas staan ek sterk!

As jy vanaand in die spieël kyk en jy sien die vetrolletjies het aangepak oor die jare, nooi ek jou uit om my pad hier te volg en ook vry te voel om kommentaar te lewer … miskien kan ons mekaar help in hierdie ewigdurende stryd. Wees eerlik met jouself en kyk die probleem vierkantig in die oë! Spring uit jou gemaksone en DOEN iets aan jouself, niemand anders gaan dit vir jou doen nie!

As jy mooi slank is – gesond voel – gereeld oefen en gebalanseerd eet – is jy ook welkom om insette te lewer en met ons te deel hoe jy dit regkry om so te lyk en so te bly!

This is my journey…